
“En daar is Kleinblaar Ghwarrie bos (Euclea Undulata) en wildepruim, Noem Noem en granaat. Tussen Soetdoring En Karee, kry ‘n Koedoe bul sy maat….” Ghwarrie blare.
Ghwarrie bos is meer as net woorde in ‘n liriek, van ‘n stewige dwergstruikie en veeltakkige bos tot ‘n bonkige boom van so 4m hoog het menige ghwarriebos se eienskappe ons mense in landstreke aan die sing met sy uiteenlopende groeiplekke.
Kleinblaar Ghwarrie bos (Euclea Undulata) Blare
Korter blaarsteeltjies, kleiner en golwende donkergroen blare en veral roesbruin jonggroei weens die voorkoms van klein kliertjies. Die harige ghwarries vertoon weer volop klein swart kliertjies. Ghwarries met kleiner blaartjies word die “Klein Blaarghwarries” genoem.
Kleinblaar Ghwarrie bos (Euclea Undulata) Blomme
Ghwarrieblaartjietee is veral bekend as ‘n gesondheidsdrankie en vir die lekker ghwarrieheuning van die klein, geurige blommetjies.
Ghwarrie bos is deel van byna al ons veldsoorte. As veral ‘n bosveld bekende, verras hul voorkoms in ons dorre struik- en karoobossievelde, ooskus se ruigtevelde, Addo- en duinebosse, beboste grasveld, strandveld en bergfynbos.
Kleinblaar Ghwarrie bos (Euclea Undulata) Bas
Ghwarriehout maak ‘n heel skaflike braaikool. ‘n Uitverkore brand- en braaihout in die dorweste, wat nou nie baie te vinde is nie. Die swart kernhout lyk soos fossielsteenkool. ‘n Duursame fyngreinhout, gesog vir die maak van meubels, houtsny en inlegwerk.
Die Ghwarriebos is wyd verspreid wat ‘n lewe kan maak vanaf subtrope tot by klipwoestyne. Die Ghwarrie het ‘n aanpasbare, meervormige, van klein tot groot struik- of boomgeaardheid. Gronddiepte en voorkoms van ryp het veral hiermee te make.
Hulle is nie te vinde in ons woude nie, maar wel langs woudrande of oorgange. Hulle is gewilde takvoer vir vee en wild. Vir die mens is hulle bas, wortels, blare en vrugte diensbaar as kruie vir hartsiektes, hoof- en tandpyn.
Die kou van bas vir ‘n mondspoelmiddel en die gebruik van takkies of wortels vir tandeborsels is chemies verantwoordbaar weens die voorkoms van verskeie quinone.
Ghwarries is miskende boskarakters, wat met trots tot die bosprofiel bydra en ‘n bosbestaan vir baie verseker. ‘n Geheimenis wat taaiheid en aanpasbaarheid simboliseer.